Ekstrak uit "Jou Storie"

Jou Storie

Wanneer mense my vra oor jou sê ek; “Dit is ‘n lang storie”, asof ek dit nie wil vertel nie, maar ek wil, ek wil hulle vertel hoe ons ontmoet het, hoe jy my lewe gered het. Ek wil hulle vertel hoe, elke keer wat ons paadjies kruis, ek jou ‘n bietjie liewer het en jy my beitjie seerder maak.

Ek wil hulle vertel hoe ek jou amper nou weer gebel het maar nie het nie want, as dit hel is om nie jou stem te hoor nie, is dit ‘n ander soort hel om op te hou om jou stem te hoor wanneer jy aflui.

Ek wil hulle vertel hoe ek weet dat ek vir die res van my lewe gaan wonder of jy enige iets wat jy vir my gesê het bedoel het, of jy ooit wens dat jy dit nie gesê het nie en of jy bly is dat jy dit wel gesê het.

Ek wil hulle vertel van daardie eerste aand, op daardie derde trap van bo en ek wil vir hulle vertel van die laaste aand, in jou bed.

Ek wil hulle vertel dat ek jou liefhet en ek wil hulle vertel dat jy my liefhet.

Ek wil hulle vertel hoe dit nie is hoe jy my vervang in jou wese nie, nie die stormloop wat my meesloer wanneer ek om jou is nie maar hoe jy my laat voel asof jy my vertstaan, my sien en my waardeer ten spyte van die ramp wat ek is.

Ek wil hulle vertel hoe jy my gesien het, naak, soos nog niemand ooit kon, of weer sal nie, en vir my vertel het hoe mooi dit is.

Dit is wat ek hulle wil vertel, maar dit is nie wat ek hulle kan vertel nie want dit, alles, is jou storie, die storie wat ek net kan hoop nog nie verby is nie, die storie wat ek net kan droom ‘n beter einde gaan hê as die miserebale gemors wat dit op hierdie oomblik is, want dit is.

Ek spandeer aande in ‘n denkbeeldige gedrentel tussen jou huis en myne, my hande vol blaam, onseker op wie se stoep ek dit moet neerlê. Ek weet ek moet sê dit was my skuld omdat ek geglo het in jou woorde in plaas van jou aksies en ek weet dit is jou skuld dat die twee nie byemekaar gekom het nie. Ek weet hierdie net soos wat ek weet dit is nie jou skuld nie want ek weet; jy is bang, bang om alles te verloor, bang om alles van jouself te gee want wat as dit nie genoeg is nie, wat as jy nie genoeg is vir my nie…

Dit is die ding, jy is reg, jy is nie genoeg nie vir my nie, jy is soveel meer as genoeg, soveel meer as perfek en soveel meer as wat jy dink en dit, dit is die probleem, want hoe blammeer ek jou as ek weet hoekom jy weghardloop, so dan blammeer ek myself, want dit is my skuld dat ek jou nie kon laat voel dat jy genoeg is nie…

…dat ek nie vir jou laat weet het dat ek jou sal liefhê al laat jy my in die steek nie, dat ek jou sal liefhê al breek jy my hart ‘n miljoen maal nie, dat ek jou sal vergewe daarvoor want my hart is niks om te gee vir net van daardie glimlae van jou nie… My verlede het my geleer hoe om die bande terug te hou sodat hulle jou nie versmoor nie, deur jou te vergewe al sê jy nie dat jy jammer is nie en om nie toe te laat dat bitternis voet vind in my hart nie.

Hierdie is die demone wat by my spook, maar Steven Moffat het geskryf:

One may tolerate a world of demons for the sake of an angel.

en jy, jy is daardie engel.

Hulle sê “een dag op ‘n slag”, maar daar was nou al baie “een ure op ‘n slag” in daardie dae en meer “een minute op ‘n slag” in daardie ure… Ek sukkel soms… Om myself nie heeltotaal te verloor in my gedagtes oor jou nie en, as ek eerlik is, wel, dan weet ek nie of ek ooit wil ophou nie.

As ek deur al hierdie seer, en pyn en leiding moes gaan net om by jou op te eindig, sal ek kan sê niks, niks op hierdie hele aarde was meer werd as dit nie. Jy is dit alles, en soveel meer werd en wanneer dit by jou kom is dit maklik om my hart te volg…

Maar om my brein te volg…

Dit is onmoontlik…

Ekstrak uit "Jou Storie"


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *