Sewe dae tot Vrydag

Die dood het daardie week stil by ons kom intrek. Hy het saam met ons aan tafel gesit, in die gang gewag, en snags tussen my en haar ma kom lê.

 · 3 min read

Die dood het daardie week

stil by ons kom intrek.

Hy het saam met ons aan tafel gesit,

in die gang gewag,

en snags tussen my en haar ma kom lê.


Net die kind het hom nie raakgesien nie.


Sy het slapies getel,

met die ongekunstelde vreugde

waarmee net ’n kind

na môre kan uitsien.


Sy sou by haar pappa gaan kuier.

Sy sou haar sussie sien.


En telkens wanneer sy van Vrydag praat,

het iets in my verder meegegee.


Hoe verskriklik is die voorreg

om onkunde te aanskou

wanneer jy self reeds weet.


Om te luister na ’n kind

wat haar klein geluk vir jou uitstal,

terwyl jy reeds die skerwe daarvan

in jou binneste ronddra.


Ek het geleer om te glimlag

sonder dat my oë daarvan weet,

om met ’n vaste stem

oor die komende naweek te praat,

terwyl ek in stilte gebid het

dat Vrydag tog net nie moet aanbreek nie.


Daar was sewe dae

waarin ek haar elke aand

met ’n geruste hart sien gaan slaap het,

en sewe nagte

waarin ek my eie gedagtes

nie tot rus kon bring nie.


En soms, Here, was ek kwaad.


Vir ’n man wie se donkerte

ek nooit werklik geken het nie.

Vir die nalatenskap van sy wanhoop.

Vir die verskriklike finaliteit van ’n daad

waarvan die gevolge

nog jare lank sou voortleef

in die hart van ’n kind.


Ek het geen reg gehad

om oor sy lyding te oordeel nie,

maar ek moes met die leemte

wat hy agtergelaat het,

’n kind se vrae probeer beantwoord.


Hoe troos ’n mens ’n kind

oor iets waarvoor jy self

geen vertroosting vind nie?


En toe word dit Vrydag.


Asof daar niks met die wêreld skort nie,

het die son oor die dorp gesak.

Mense het huis toe gegaan.

Ander kinders het hul tasse gepak.


En ons het die veld ingevaar,

weg van die dorp se liggies,

na ’n plek waar die nag

nog onbelemmerd oor die aarde kon hang.


Daar, in die stilte van die Hoëveld,

het ek ’n kind gevra

om haar oë hemelwaarts te rig.


Kies vir jou die mooiste, helderste ster, my kind.


Ek onthou hoe sy gesoek het.


En hoe ek gewens het

dat sy vir altyd sou aanhou soek,

dat sy nooit sou kies nie,

dat ek nog net ’n rukkie

die waarheid kon verswyg.


Maar haar vingertjie het tot rus gekom

teen die donker van die hemelruim.


En my woorde het opgeraak.


Liewe Jesus het jou pappa kom haal, my kind,

maar daardie sterretjie

het Hy spesiaal vir jou gelos.


Ek het die dood in kinderwoorde geklee,

die onherroeplike

in iets moois probeer toevou,

en met die ganse hemel tot my beskikking

steeds te min gehad om haar te bied.


Want wat is ’n ster

teen die warmte van ’n vader se hand?


Wat weet die hemel

van ’n dogtertjie se verlange?


En hoe troosteloos is die lig

van iets wat jy elke aand kan sien,

maar nooit weer kan vashou nie?


Daardie aand het ek besef

dat liefde ’n mens soms magteloos laat staan

voor die verdriet van iemand

vir wie jy enigiets sou doen.


Ek sou die hele hemel leeggepluk het

as daar tussen al sy sterre

net één antwoord vir haar was.


Maar die hemel het geswyg.


En nou, twee jaar later,

bewaar ek steeds ’n gedeelte van daardie nag

iewers diep binne my.


Daar is ’n waarheid

wat ek nog nie oor my lippe kon kry nie,

’n laaste stukkie donkerte

wat ek nie aan haar kon oorhandig nie.


Eendag sal sy verder vra.

Eendag sal die sterretjie

nie meer voldoende wees nie.


En ek sal weer moet soek na woorde

waarvoor die mens seker nooit

’n geskikte taal sal vind nie.


Maar as ek terugdink,

is dit nie daardie Vrydagaand

wat my die meeste bybly nie.


Dit is die dae daarvoor.


Die slapies wat sy afgetel het.

Die vreugde in haar stem.

Die klein sussie wat sy sou sien.

Die pappa by wie sy sou gaan kuier.


Dit is die herinnering aan ’n kind

wat met soveel oorgawe

na haar naweek uitgesien het,


en ’n man wat haar aangehoor het,

wetende dat die dood

haar reeds voorgelê het.


Van daardie week

het sy net die ster oorgehou.


Ek,

die donkerte waarteen dit skyn.


Eben van Deventer

I have always been a bit of a tinkerer, playing with new technology and figuring things out as I go. I started my professional career in airfreight and moved on to retail (specifically computer stores). After a brief stint in sales I returned to retail in various managerial roles before moving to corporate IT. I migrated to Industrial Relations and had various roles, including General Manager of a large, national Labour Consultancy Firm. Currently employed in the Coal Mining sector.

No comments yet.

Add a comment
Ctrl+Enter to add comment