Ekstrak uit "Aan My Seuns"

Aan my Seuns – Wat dit vat om ‘n Man te Wees

Die wêreld verwag baie van ‘n man en die las van daardie verwagtinge kan ons nie altyd vir die mense om ons wys nie.

Ek weet nie of ek dit reg gaan saamvat nie, maar ek gaan probeer om te verduidelik at my ervaringe was in die gebied van man wees.

Ek is nie ‘n goeie man nie, ek is nie ‘n slegte man nie. Ek is nie ‘n held nie en ek is definitief nie ‘n leier nie. Ek is ‘n idioot wat net deur die lewe beweeg en probeer om te help. Liefde is nie ‘n emosie nie, liefde is ‘n belofte. Wees net vriendelik, dit is wat ek doen. Daar is dalk geen punt aan enige iets op hierdie aarde nie maar dit is die beste wat ek kan doen, en ek gaan dit aanhou doen. Ek sal dit aanhou doen tot dit my doodmaak. Ons almal gaan dood, hoe gaan jy doodgaan? Het jy al daaraan gedink? Wie ek is, is waar ek staan en waar ek staan is waar ek val, staan saam met my, miskien kan ons so bietjie help om die wêreld beter te laat as wat ons dit gevind het.

Ek dink dit is vir my baie mooi opgesom in Count of Monte Cristo deur Alexandre Dumas:

Life is a storm, my young friend. You will bask in the sunlight one moment, be shattered on the rocks the next. What makes you a man is what you do when that storm comes. You must look into that storm and shout as you did in Rome. Do your worst, for I will do mine! Then the fates will know you as we know you

Dit is soms meer alleen as wat ons wys en niemand gaan ooit omgee oor wat jy weet of hoe jy voel nie, net wat jy aan die einde van die dag verrig, uitrig, regkry en, ongelukkig, ook jou valinge, mislukkings en foute. Maar onthou, soms, al wat jy hoef te doen is om op te daag. Wees laat, wees bang, wees ‘n gemors, wees vreemd, wees onseker, wees net daar. Die res sal jy uitfigure soos jy gaan.

Daar was meer as een aand wat ek laat gewerk het, of by die huis gestop het en eers in my kar gesit het met my kop in my hande, in trane, omdat ek nie geweet het of ek nog more gaan kan sorg vir julle nie, ek het nooit toegelaat dat julle daardie trane sien nie want dit is nie wat ‘n man doen nie. Maar dalk, dalk moet ons nie dit opgebotteld hou nie. Ek dink een van my foute was om nie my onsekerhede en vrese te deel met julle ma nie.

Ek weet die wêreld kan jou party dae heeltemal afbreek en dat jy voel hoe jy besig is om te kank onder die gewig wat jy op jou skouers dra, maar jy doen nie, jy wys nooit jou seer vir die wêreld nie want as ‘n man is daar ‘n ongesproke reël dat ons nie mag huil wanneer ons seerkry nie. Dit is bullshit. Huil, skreeu, woed teen die onregverdigheid in die wêreld.

Dit is ideaal dat ons niemand seermaak met ons besluite en aksies nie, maar jy gaan foute maak, jy gaan mense seermaak en al wat jy kan doen is om jammer te sê wanneer jy dit doen en probeer om dit nie weer te doen nie, leer uit hierdie lesse uit en dra die les by jou, nie die fout nie, want as jy die foute wat jy maak om jou nek gaan hang gaan dit jou laat verdrink in gevoelens van selfverwyt. Daar is een episode van Scrubs “My Lunch Date” waar JD sien hoe sy mentor, Dr. Cox, ook val… Maar net voor dit gee Dr. Cox vir hom hierdie advies:

Once you start blaming yourself for pain that’s not your fault, my friend, that’s a slippery slope that you can’t come back from and trust me, I’ve seen it ruin a hell of a lot of good people and I will not let it happen to you.

Ek verstaan hierdie selfverwyt beter as wat ek dalk moet, en ek wens dit  nie aan enige een nie want om jouself te hang aan ‘n galgtou van jou eie mislukkings is nie die pad wat ek vir julle toewens nie.

Ons word geleer dat onbeperkde liefde net vir vrouens, kinders en honde is, dat ons dit nie kry nie want ons is die mans, die broodwinners, maar dit hoef nie so te wees nie, deel met jou sielsmaat wat in jou hart is en as jy nie kan nie, praat met my of met julle ma want ons het julle lief.

Niemand gaan ooit omgee oor jou gebroke hart nie, maar jou hart gaan breek, soveel keer en dit is oukei om dan te praat met iemand, jou maatjie, jou pasmaat, die vrou of man met wie jy kies om jou lewe te lewe want glo my, as jy dit nie doen nie, dan gaan jy daardie persoon verloor.

As ‘n man word jou waarde bepaal deur wat jy toebring in hierdie wêreld, dit voel onregverdig om daardie gewig op jou skouers te dra, maar ek belowe vir jou, dit is daardie gewig wat jou gaan sterk maak. Dryf om beter te wees en daardeur, om die wêreld beter te maak maar moet nooit dat dit jou hard maak nie.

As jy eendag gelukkig is om daardie spesiale iemand te vind wat jou voltooi, wat jou heel laat voel, dan gaan daar dae wees wat jy nie weet hoe om dit te doen nie, dae wat jy nie weet of jy alles kan wees wat daardie persoon nodig het nie. Moet nie my foute maak nie, praat met hulle daaroor, deel jou gevoelens en emosies want om dit nie te doen nie, dit gaan jou alles kos.

Moet nooit opgee nie, nooit ophou baklei vir dit wat jy wil hê nie, nooit ophou die wêreld verander in die wêreld wat jy soek nie want die enigste persoon wat vir jou gaan gee wat jy begeer is jy self.

Jou kinders gaan jou hoop vir die toekoms wees, as jy, soos ek, gelukkig genoeg is om te hê, maar jy moet nooit jou eie tekortkominge en foute deur jou kinders probeer regstel nie, dit is nie hulle werk om jou lewe reg te maak nie, dit is jou werk om hulle voor te berei, om vir hulle die geleenthede te gee, en toe te rus, om die mens te wees wat hulle wil wees en dit is belangrik, want jy moet altyd streef om ‘n beter mens te wees as wat jy is, daardie dryf moet jy nooit verloor nie.

Jy skuld jou ouers nie so baie soos wat jy dink nie, moet nooit vasgevang raak in skuldgevoelens teenoor my nie, jy gaan voel dat jy my teleurstel, dat daar net nie tyd is om meer tyd met my te spandeer nie en dit is oukei. Ek wil hê jy moet jou eie lewe hê, jou gesin bou en jou baan sny, maar wees altyd daar vir jou ma, en luister altyd na jou ma, want daardie liefde sal jy nooit van enige ander persoon op aarde kry nie.

My seun, jy gaan dinge ervaar en voel wat jy nie kan uitdruk nie, emosies wat soos veldbrande deur jou siel jaag en dit is die ding, jy gaan soms in oorlog verkeer met jouself. Die belangrikste ding om te onthou is wie jy is, waar jou ware noord lê, of dit God is of jou eie morele waardes en etiek is, is vir jou om te besluit maar hou altyd waar aan daardie kompaspeiling, so moeilik soos dit soms kan raak want as die storm woed is dit net jy wat terug kan keer na ‘n veilige hawe.

Moet jouself nooit oorgee aan drank en dwelms nie, dit bied soms kortstondige verligting van die seer, maar dit is nooit, nooit die moeite werd nie. Die seer keer altyd terug na jou toe en as jy afhanklik geraak het van ontsnap, wel, dan kom dit terug met rente. Jy moet weer opstaan, jy moet jou lewe herbou wanneer alles uitmekaar geval het want dit gaan gebeur van tyd tot tyd.

Niemand gaan ooit weet wat jy werd was tot die dag wat jy dood is nie, moet nie jouself meet aan hoe ander mense jou waardeer nie maar meet jouself aan die doelwitte en drome wat jy vir jouself bepaal het en onthou altyd, die rol van ‘n leier is nie om idees te hê nie maar om ‘n omgewing te skep waar idees kan ontstaan, soms beteken dit dat jy so bietjie spasie moet maak in jou eie drome en doelwitte om spasie te skep vir iets wat dalk beter kan wees.

Maar meer as alles, beskou die wêreld om jou met daardie glinsterende oë want die grootste geheime, versteek in die mees onwaarskynlike coordele is altyd in die onwaarskynlikste plekke verteek. Mense wat nie in “Magic” glo nie, sal dit nooit vind nie.

Ekstrak uit "Aan My Seuns"


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *